Ons Christelike geloof is gewortel in die feitelike en historiese aardse lewe van Jesus Christus. Dit is selfs vir ons moontlik om fisies dié plekke in die Heilige Land besoek waar Onse Here Jesus geleef het. In Jerusalem kan die plekke van Jesus se laaste aardse reis vanaf die Romeinse praetorium (waar Hy deur Pilatus gevonnis is) vir ongeveer ’n myl gevolg word na Golgota waar Hy gekruisig is. Die Stasies van die Kruisweg van Onse Here in ons kerke vorm amper ’n tipe substituut pelgrimstog, maar is ook baie meer as ’n blote opsoek van en besoek aan die plekke en insidente van Onse Heiland se Lydensweg. As Christene oorpeins ons die Passie van Jesus Christus omdat ons in sy Lyding hoop en betekenis vir ons eie lyding vind. Die kruisweg van ons eie lewens lei ons uiteindelik na ons beloofde heerlikheid. Die gebruik om veral tydens die Vastyd die Kruisweg te bid maak van dié tydperk van boetedoening en versoening ’n ideale geleentheid om ons verhouding met ons Verlosser binne die konteks van ons eie lewensmart en moeilikhede te plaas. Hierdie devosie help ons om één met Christus te word – die ware einddoel van elke Christen. Die verskillende meditasies wat rondom rondom die Kruisweg ontwikkel het en so deel geword van die Katolieke volkskultuur, gee verskillende invalshoeke waaruit die Kruisweg oorpeins kan word. Om oor die Passie van Jesus Christus te mediteer en die waarde daarvan op ’n mens se eie lewe toe te pas is ’n lewenslange taak. Die groot waarde en geestelike groei wat daar in hierdie antieke devosie te vinde is, word duidelik uit die blywende gewildheid daaarvan, selfs in ons moderne wêreld.
Vanaf die vroegste tye het die volgelinge van Jesus Christus die begeerte en behoefte gehad om letterlik in die voetspore van Onse Heiland te volg. Volgens oorlewering het Jesus se eerste en grootste volgeling, sy Moeder, die gewoonte gehad om ná haar Seun se Opstanding en Hemelvaart, dié plekke in Jerusalem te besoek wat verband gehou het met sy Lydensweg na Golgota. Vroeë pelgrims het ook die Heilige Land en veral Jerusalem besoek om die presiese plekke te sien waar Jesus se aardse lewe afgespeel het. Vroeg reeds was daar melding van ’n Via Sacra (Heilige Weg) waar besoekers aan Jerusalem by verskillende bedeskryne aangedoen het wat verband gehou het met Jesus se aardse lewe. Van groot belang was die Via Dolorosa (letterlik die Weg van Smart), waar die aangrypende en dramatiese gebeure van Onse Here se laaste paar ure op aarde plaasgevind het. St. Hieronymus (c.342-420) verwys na besoekende Christene se gewoonte om by dié plekke in Jerusalem te gaan bid waar die Here se Passie voltrek is. By hul terugkoms in Europa wou hulle dié plekke wat hulle gesien ook aan hul geloofsgenote uitbeeld. Die vroegste afbeelding buite Palestina van dié plekke waar Jesus se lyding en dood plaasgevind het, dateer uit die 5de eeu in die kerk van San Stefano in Bologna in Italië. By tye van die Kruistogte (wat vanaf die 11de tot die 13de eeue plaasgevind het) was daar groot belangstelling onder die bevolking van Europa om self dié Heilige Plekke te gaan sien. Kruisvaarders wat teruggekeer het vanuit die Midde-Ooste het dan ook dikwels tuis taferele laat oprig om dié plekke uit te beeld wat hulle in Jerusalem en die Heilige Land gesien het. Met die Moslem verowering van die Heilige Land het dit al hoe moeiliker geword vir Christen pelgrims om letterlik in die voetspore van hul Heiland te loop en afbeeldings van dié plekke het dus al hoe gewilder geword.
In die jaar 1342 is die toesig van die gewyde plekke in die Heilige Land aan die Franciskanerorde toevertrou. Die Franciskane het in hul kloosters en kerke regoor die wêreld die Kruisweg van Onse Here Jesus Christus uitgebeeld en weldra het dié devosie en uitbeelding daarvan na alle kerke en kapelle versprei. Alhoewel daar aanvanklik ’n verskeidenheid van stasies (letterlik staanplekke) op Jesus se laaste aardse reis na Golgota uitgebeeld is, het die getal van veertien spesifieke insidente mettertyd vasgeraak. Dié getal, sowel as die manier waarop die Kruisweg gebid word, is deur pous Clemens XII in 1731 vasgelê. In 1750 het pous Benedictus XIV die eerste pous geword om op Goeie Vrydag die Kruisweg in die Colosseum in Rome te bid. Hierdie gebruik van die pous sou met min uitsonderings voortduur tot in die jaar 1870 toe die anti-Kerklike magte van die nuutgestigte Italiaanse Koninkryk Rome verower het en die pous se bewegings tot die Vatikaanstad beperk is. Op Goeie Vrydag, 1964, het pous Paulus VI dié gebruik heringestel en sedertdien het dit tradisie geword dat die pous jaarliks op die aand van Goeie Vrydag met ’n ruwe houtkruis op sy skouers die Kruisweg in die Colosseum bid. Duisende mense woon elke jaar dié Kruisweg by.
Elke stasie word as volg ingelei:
Voorganger: Ons aanbid U en prys U, Here Jesus Christus,
(Ons kniel en antwoord)
Almal: want deur u heilige kruis het U die wêreld verlos.
(Ons staan en beweeg aan na die volgende stasie)
Gedurende die Vastyd is dit die gebruik dat die Kruisweg elke Vrydag in parogies of kloosters of heiligdomme of bedevaartsoorde gebid word. Op Goeie Vrydag vind daar gewoonlik ‘n spesiale diens rondom die Kruisweg plaas.
Die amptelike vertaling soos goedgekeur deur die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe Konferensie, voorberei deur die Afrikaanse Taal Pastorale Streek van dieselfde Konferensie.
© ALLE REGTE VOORBEHOU
Die saamgestelde Kruiswee is in enkelblad- of boekformaat beskikbaar.
We use cookies to analyze website traffic and optimize your website experience. By accepting our use of cookies, your data will be aggregated with all other user data.